Griekeland in krisis 1974

Die groep van 120 is verkeerd ons was net 72 waarvan ons 36 in Griekeland.

Terugblik op 1974

Ek besef hierdie “Lock Down” in Maart 2020 en Corona virus is baie ernstiger as die posisie waarin ek in 1974 beland het met die sluiting van Griekeland se grense. Tog het dit ‘n blywende indruk gemaak.

Athene, Griekeland, einde Junie begin Julie 1974

Ons was aan die einde van ons drie weke toer deur Europa. Laaste stop was Athene en die Griekse eilande. Dit was ‘n heerlike drie weke van rondry en alle plekke besoek wat moontlik was. 

Saterdagoggend na ontbyt, alger gepak en gereed om vir oulaas die Akropolis te besoek. Mens voel die opwinding in die lug, na twaalf vertrek ons terug, eers Rome toe waar ons sou aansluit by die ander helfte van ons toergroep en dan die lang vlug Suid Afrika toe.

Dit is ‘n heerlike sonnige oggend in Athene. Ons geniet die rit na die welbekende Akropolis. Voor die “Hellenic Parliament” staan die wagte doodstil in hul tradisionele Griekse drag. Die bus stop aan die voet van die Akropolis en gee ons twee ure om tot bo te klim.

Die klim na bo is nogal steil en veral die ouer mense sukkel om by te bly. Die gids beduie alles oor hoe, wat en waarom van die Akropolis. Eers kyk ons af op  Odeon of Herodes amfiteater wat aan die voet van die Akropulis is. Van bo wys die gids die klip uit waar Paulus gepreek het tydens sy Griekse besoek. Ons bewonder die klippilare en beeldhouwerk. Skielik lui ‘n klok soos van ‘n roomyskarretjie. 

Ons spot nog met: “Aha, die roomys is ook op die bult!” 

In die tussentyd  sien ons mense wat  met spoed begin om na ondertoe te  beweeg. Die busbestuurder waai sy arms, beduie ons moet dadelik kom. 

Die gids skreeu: “Ontruim! Bus toe! Almal!”

So vinnig ons bene kan beweeg storm ons ondertoe.

 Ons bondel in die bus in.

Busbestuurder:”Ek laai jul dadelik op die lughawe af want die lughawe sluit soos in ….” Hy het nie ‘n antwoord nie. 

Hy ry. Dis n getoet en geskree en mense wat hardloop. In die tussentyd vorder ons nie veel nie. Die bestuurder kry opdrag dat hy ons by die hotel, waar ons was, aflaai. 

Die lughawe is reeds gesluit, en  alle mans 18 tot 45 is opgeroep. Alle voertuie moet gebruik word vir vervoer na grens met Turkye. 

Dit, was nou nie baie goeie nuus nie.

Wat maak ‘n mens in so ‘n geval? 

Ons ry weer verby die “Hellenic Parlaiment” waar die tradisionele wag verander is met militêre uniforms. Ek kliek gou ‘n foto van die verandering.

In die tussentyd is dit chaos in die strate. 

Die busbestuurder maak so gou hy kan en laai ons af by die hotel. Daar staan ons groep van 36 toeriste in ‘n hotel sonder dat ons bespreek is. Die hotel bestuurder beduie dat ons nie kan bly nie:

 “Die volgende groep is oppad om in te boek.”

Probleem is ook nog die Grieks, net Grieks! Ons gids het gelukkig gebly om te help verduidelik.

Terwyl ons nog in die voorportaal, wag land die volgende groep ook by ontvangs.

‘n Kakofoniese lawaai bars los! Dis n groep Amerikaners! Dit raas en praat deurmekaar. Elkeen het iets te sê.

Een van die toeriste beduie met ‘n geskal dat die polisie hom wou arresteer. Hul het sy dure kamera gekonfiskeer omdat hy fotos geneem het. In ‘n staat van oorlog mag jy nie jou kamera gebruik nie. Ons kyk terwyl almal praat en raas TV waar die nuus aan die gang is. Ons verstaan geen snars van wat gesê word nie. Ons weet wel daars moeilikheid. Groot moeilikheid.

Die Amerikaners se busbestuurder verduidelik aan ons almal. 

Die lughawe is gesluit omdat die militêre vliegtuie daarvan af opstyg na die grens met Turkye. Daar is wel ‘n geleentheid om oor land te gaan en  dan per skip na Italië, as die hawe oop is wat te betwyfel is. Dit kan wees dat die bus buite Athene voorgekeer kan word en nie verder kan ry nie. Van buite Athene moes hul self geleentheid vind om  Albanië toe te gaan en van daar af Italië toe.

 Die klomp Amerikaners besluit hul gaan beslis nie in Athene bly nie en is toe daar weg.

Sjoe wat ‘n gedoente.

Elkeen van ons kry ‘n eie kamer, wat my pas want ek het heeltyd met ‘n student gedeel wat van baie plesier hou en gedurig ekstra uitstappies gemaak het waarvan haar ma en suster wat ook op die toer was nie geweet het nie. Ek het maar net stil gebly en haar  laat begaan.

Dit dan alles die Saterdagmiddag. 

Ons het probeer om uit te maak wat die TV vertel. ‘n Voordeel wat ek en my kamermaat gehad het was dat ons voor die tyd met ‘n omie in ‘n kafeetjie vriende gemaak het wat skuins oor die hotel was. Die omie het goed Engels gepraat.

Alles was doodstil in Athene laat namiddag. Geen siel te sien. Geen voertuie. Net niks.

Ons twee hardloop vinnig oor die straat. 

Sjoe, was die omie kwaad vir ons! Hy verduidelik dat niemand op straat mag wees nie. Ons is in Lock down.    

Ons twee is druipstert terug hotel toe. Omie het ons die dood voor oë gesweer hy sal ons aangee as ons dit weer doen.

Terug in die hotel.

Nog n storie!

Geen kelners, kombuispersoneel of skoonmakers nie.

Ons het self moes eetgoed aanmekaar slaan. Skottelgoed was en skoonmaak. Vir drie dae het ons so gesweef van slaapkamer, kombuis, sitkamer. Ek kan niks onthou hoe ons dit alles gedoen het nie. Weet net ons was nie baie gemaklik met die situasie nie. Militêre vliegtuie het gereeld oor die stad gevlieg. Opgestyg en weer geland.

Toe skielik, Woensdag oggend vroeg, word daar gesê die lughawe gaan vir die dag ‘n paar ure oop wees om toeriste uit te stuur.

Ons het gedink tjop, tjop en ons is weg, aikona.

Daar moes vervoer gereël word. 

Ons moes vir die ekstra dae in die hotel betaal.

“Met geld wat ons waar kry?” Ons het klaar vakansie gehou. 

Geen ekstra geld nie!

Oplossing: Ons moes Suid Afrikaanse ambassade toe gaan om geld te leen by Suid Afrika. Omdat daar nie ‘n bus was nie en elkeen op sy eie moes ry is daar ouens afgevaardig om te teken vir familie/man/vrou. Ek moes gaan omdat ek op my eie was. Gelukkig kon ons met ‘n taxi ry- wat nie geweet het waar die Ambassade is nie. 

Daar aangekom was ons bly om op Afrikaanse “grond” te wees. Die nodige reëlings is gemaak. Ons het nie baie tyd gehad om terug hotel toe te gaan nie. 

Buite gekom was daar net mense, mense en nogmaals mense. Geen taxi’s nie. Ons moes terug hotel toe loop. Tussen die mag der menigte deur. Die verbande eerste minister wat in ballingskap was het aangeland. Dis hoekom almal daar was om hom te verwelkom.

Wel, ons het dit net net gemaak om die bus te kry.

Met ‘n stryd om deur die massas mense te kom het die bus ons op lughawe afgelaai.

Onthou nou, ons het geen vliegtuigkaartjies of niks nie. Daar word afgekondig dat die eerste vliegtuig na Rome nog nie gereed is nie en hul weet nie hoe lank dit sal neem nie. Ek dink ons bagasie is wel geneem om ingelaai te word want ons het net ons oornagtassies by ons gehad. 

Ons groepie besluit om maar rustig op die vloer te sit en  wag. Was daar vir jou mense; ongelooflik hoe baie paniekerige mense daar was om weg te kom.

Skielik kondig die luidspreker ons vlug aan en ons vlieg op. Daars nie eers deur die doeane gegaan of niks nie. Die deur van saal is oop en ons drafstap so vinnig soos ons kan vliegtuig toe.

Wat n verligting dat ons darem plek op n vliegtuig Rome toe gekry het.

Nog was dit het einde niet!

Rome:

So net na middernag land ons in Rome. Die doeane geniet hul gate uit met hierdie klomp verskrikte toeriste. Bygesê, dit was ‘n klomp jong Italiaanse mans. Hul laat elkeen alles uitpak. Hul bekyk alles en maak aanmerkings wat ons natuurlik nie verstaan nie.

Toe ons deur die doeane is staan ons soos ‘n klomp natgereënde hoenders in ‘n bondeltjie.

 Waarheen nou?

Geen besprekingskantoor is oop nie.

In transit is daar net ‘n paar regop harde plastiese stoele. 

Ons is moeg.

Voor die deur waar die vlugpersoneel in verdwyn het is ‘n harde tapyt. Ons besluit om maar daar ‘n lêplek te skrop.

Onthou ons het van die oggend af net die bietjie kos op die vliegtuig gehad.

Ons is honger en dors.

Slaap ontwyk my.

Ek en twee van die dames van die groep staan en gesels eenkant.

Een van die doeane ouens kom verby en beduie en vra in Italiaans wat aangaan. My bietjie Latyn het gemaak dat ek ‘n woordjie vang wat hy wil weet. 

“You understand?” Vra hy.

“No, no,” beduie ek.

Met armswaai en beduie vertel ons hom wat aangaan.

Sal die ou nie afhaak met:

 “You marry me! You go out!”

Wat dink die man van homself. So desperaat is ek beslis nie.

Na  n tydjie kom daar ‘n vlugkaptein verby. Hy praat Engels. Hy wou weet wat aangaan en hoekom ons voor die uitgang deur slaap. Ek verduidelik toe in my beste Engels wat aangaan. Hy bel toe iemand wat hy ken wat dalk kan help. Onthou dis na twee die oggend. Daar is geen antwoord nie. Die man verseker ons toe dat hy beslis sal kyk wat hy vir ons kan doen, wat hy toe ook gedoen het.

Donderdagoggend word ons almal weggejaag van die mat af. 

Ek was pootuit van die geen slaap en spanning. Ek gaan die een kafeetjie in om te sit en dalk ‘n slapie te vang. Nie ‘n kat se kans nie. Ten eerste moet jy iets koop om daar te sit, ten tweede word ek uitgejaag. 

Gelukkig vir my het ek nog ‘n bietjie geld oor. Ek bel huistoe.

Mamma tel op: “Is jy op Jan Smuts?”

“Nee, ek is in Rome.”

“Wat maak jy in Rome? Pik Botha het twee SA vliegtuie Athene toe gestuur om jul op te laai.” 

Ek wil sommer huil van teleurstelling.

Mamma sê sy sal nog verder met mnr Pretorius van Toerpret praat om te hoor wat aangaan.

Ek vertel aan die groep wat my ma gesê het. In die tussentyd beweeg ons van punt a na b na c tot z sonder oplossing. Die lughawe het darem vir ons ‘n middagete gegee. Ons sien op die afkondigingsbord dat die twee vliegtuie oppad is Rome toe. Ons hou duime vas dat daar nog plek is. 

Daar is nie ‘n enkele sitplek oop nie. Ons het met trane in die oë gestaan en kyk hoe die twee vliegtuie na SA vertrek.

Nou was ons regtig gestrand. In transit. Geen tas of klere by jou nie. Net die oornagtassie. Geen geld want alles is uitgegee.

Ons hou kajuitraad. Daar word lootjies getrek om te besluit wie kan wanneer vertrek. Daar is eers voorsiening gemaak vir die ouer mense en die wat nie gesond was nie. My nommer was 34 van die 36 name. Ek sou seker vir dae daar moes sit. Ek vat my oornagtassie en vou my reënjas op om as kussing te gebruik. Ek gaan nou net sommer daar op die vloer slaap.

Die middag en vroeg aand het stadig verby gegaan. Skielik kom die vlugkaptein van vroeër die oggend na my toe.

“I’m flying a DC 10 to Johannesburg. I won’t go without all of you on board.”

Dit was nou iets om na uit te sien. Ons wag. Die tyd stap aan. Die vlug na Johannesburg word vertraag. Die vlugkaptein staak!

 In die tussentyd word vlugte van Parys en London gekanselleer wat by die DC 10 na SA moes aansluit.

 Ons wag steeds in spanning. Die volgende afkondiging:

“All South African passengers from Athens to Johannesburg must board immediately”

Wow, ons roer ons moë lywe so vinnig as ons kan.

Die vliegtuigdeur word toegemaak.

“Welcome on board ……. This is your captain speaking. I’m taking you home.”

Wat ‘n verligting.

In Kenia kon ons nie in Nairobie afklim nie weens sanksies teen Suid Afrika. Dit het ons min gepla. Ons was immers halfpad terug huistoe.

Toe ons oor Potgietersrus vlieg(waar ek toe gebly het) kon niks my blydskap keer nie.

Ons land veilig op Jan Smuts Lughawe.

Ek loop so vinnig as ek kan om by die ingang te kom. In die tussentyd het my pa op die balkon gestaan(wat toe nog oop was vir mense om te staan en kyk). Hy gooi sy dosie met sigarette af na my toe. Ek het dit nie besef nie, hy het my later vertel. 

Dit was ‘n groot verligting om veilig tuis te wees. Pappa het my aan my arm gevat om my motor toe te lei terwyl hy geloop en snik het. 

Dit was beslis nie n maklike tyd nie, nie vir my en ook veral nie vir my ouers wat WWII deurgemaak het nie.

Sterk staan almal. Dit sal weer beter gaan.

16 Comments Add yours

  1. Sjoe, dit was omtrent ‘n avontuur, een wat jy liewer nie weer wil beleef nie. Ek dink nie ek sal vreeslik avontuurlik voel as ek midde-in ‘n ander ou se oorlog beland nie. Die onsekerheid sal ‘n mens se senuwees opvreet.

    Like

    1. Dit was beslis n avontuur om nie te vergeet nie. My ouers het reggemaak dat hul my vir lank nie gaan sien nie. My tante is gedurende die WWII vir twee jaar vasgevang in Indonesie. Sy was n apteker en hul het haar net daar gehou.

      Liked by 1 person

      1. Gelukkig is kommunikasie darem deesdae ‘n bietjie makliker.

        Like

        1. Nie net n bietjie nie sommer BAIE beter.

          Liked by 1 person

  2. Kameel sê:

    Liewe land Scrapy dit kon nie lekker gewees het nie, maar wat ‘n avontuur. Jy sal jou drie weke lock down ook maak 😊

    Like

    1. Ja wat, dis nie te vreemd nie. Het ook die mobilisering van skool in Secunda beleef. Ons lock down is vir vier weke en nog net een dag is verby.

      Liked by 1 person

  3. Sjoe, dit klink verskriklik. ek is so bly julle was op diemou einde veilig.

    Like

    1. Dit was angswekkend. Wys tog ook dat daar uitkoms was op einde met die vlugkaptein wat geweier het om op te styg voordat ons nie op die vliegtuig was nie.

      Liked by 1 person

      1. Ek stem saam, Scrapy, en in Suid-Afrika kan die virus hokgeslaan word as mense net luister.

        Liked by 1 person

  4. Watter avontuur! Om so op ‘n lughawe te moes bly, was seker vreeslik.

    Like

    1. Ja om in transit te wees in daardie tyd was erg. Daar was nie winkeltjies en eetplekke waar mens kon sit en wag nie. Net daardie lee stuk met n klein koffiewinkeltjie. Ons het spesiale verlof gekry om die middagete te gaan eet onder toesig van die lughawe personeel omdat ons nie visas gehad het nie.

      Liked by 1 person

  5. Wow dis die eerste keer dat ek die volledige storie lees. Ek is sommer baie trots op jou. Jy kan vasbyt! ❤

    Like

    1. Was nie juis baie plesierig nie. Maar n goeie oorlewings verhaal. Waar was jy daardie tyd?

      Liked by 1 person

      1. Ek het op Balfour skool gehou Omdat mens nie selfone gehad het, het mens minder kontak gehad. Dit was na ons Suid Amerika toe was nê. Ek kan net onthou jy het vertel dat die toerleier met die eerste vliegtuig daar uit is.

        Like

        1. Twee jaar na Suid Amerika. Mamma het ook rond gebel in selfs met Pik Botha se departement ook gepraat.

          Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.